Search

Wat gebeur as jy hospitaal toe moét gaan?

Kobie Coetzee

KLEINMOND - Jy moet ‘n noodoperasie kry.....maar in hierdie tyd van virusse wat los rondloop?

Jan Rousseau van Arabella moes onlangs ‘n nood-dubbele hartomleining ondergaan. Met sy ouderdom en kroniese asma sou hy verkies om dit te laat verbygaan, maar die angiogram het getoon dat daar nie uitgestel kon word nie.

“Daar was nie ‘n ander uitweg nie en op Dinsdag, 12 Mei is die operasie in Hermanus se Medikliniek gedoen. My vrou, Esmarie, kon nie eens saam met my by die spreekkamers of hospitaal ingaan nie. Dan leer mens werklik om die ondersteuning van jou gesin, familie en vriende te waardeer,” sê hy.” As jy na die tyd wakker word, en niemand mag jou besoek nie, mis mens die aanraking en nabyheid van jou geliefdes intens. Ek dink egter dit is een van die opofferings waarmee ons moet saamleef in hierdie ongekende krisistyd.”

Jan was uiteraard besorg oor die hele Covid-19 omstandigheid. Die hospitaal het die hele situasie egter volgens hom baie goed en gerusstellend hanteer.

“Ek word byvoorbeeld een oggend om 4:30 wakker en dog dit reën. Die suster by my bed verduidelik dat hulle besig is om die voertuig wat die farmaseutiese voorraad by die groothandelaar moet gaan haal, te ontsmet. Vyfuur ry die voertuig na die groothandelaar waar hy binne ‘n steriele vertrek stop. Slegs die bestuurder laai die steriele pakkies in die voertuig en ry terug hospitaal toe. Terug by die hospital stop hy weereens in ‘n steriele vertrek, laai die pakkies af en nadat hy vertrek het, kom haal die apteekpersoneel die pakkies,” vertel hy.

Op ‘n stadium is daar besluit om een vleuel en hoësorgeenheid van die hospitaal tot beskikking van Covid-19 gevalle te stel. Aangesien hulle dikwels noodgevalle ontvang wat behandel moet word voordat die Covid-19 status vasgestel kan word, is ‘n spesiale steriele isolasiekamer dan ook in die hoësorgeenheid waar Jan gelê het, ingerig. Hier kan hoësorgbehandeling dan toegepas word terwyl daar op die uitslag van die Covid-19 toetse gewag word. Is die toetse negatief, gaan die pasiënte na die gewone hoësorgeenheid en indien positief, na die Covid-19 hoësorgeenheid. Daarna word hierdie vertrek weereens in totaliteit gesteriliseer.

Deurgaans het alle personeel baie professioneel opgetree en maskers en gesigskerms gedra. Alle oppervlaktes, hande en toerusting is gereeld gesteriliseer.

Ook die buite-mediese dienste soos die fisioterapeut en mobiele X-straal eenheid het nie alleenlik hulle toerusting gesteriliseer nie, maar ook seker gemaak dat die pasiënt sien dit word gedoen. Dit was baie gerusstelend vir almal.

“Dit is maklik om die regering en die regulasies te kritiseer - veral as dit jou direk raak. Wat ons egter moet onthou is: dit neem ‘n biblioteek vol wette en regulasies om ‘n komplekse land soos Suid-Afrika te regeer. Voeg hierby nog die lewensbedreigende krisis en die bestuursprobleem word dubbeld so groot,” sê Jan.

“Dit is onmoontlik om ‘n land in ‘n krisisistyd te regeer aan die hand van ‘n sewentien bladsy dokument. Gapings, weglatings, oorreaksie en onduidelikhede sal daar noodwendig wees. Ek het die regulasies deeglik bestudeer en dit is duidelik dat dit gebaseer is op insette van baie kenners en groepe. Die bewoording daarvan is onduidelik en onelegant, maar ek het vertroue in die regering se bonavides en dat hulle werklik gekonfronteer is met ‘n ongekende en onbekende krisis.

“Ek dink die gesondheidswerkers offer baie meer op as enige een van ons en hulle doen dit met blymoedigheid en sonder om te kla.”

Wat hom veral opval, is dat mense in Italië, Spanje en Australië hul beperkings gehoorsaam omdat hulle dit wou doen en nie omdat hulle regerings dit afgewing het nie.

“Ek het baie aande met trane in my oë verlang na my gesin. Dit was werklik baie-baie hartseer en eensaam, maar as dit die opoffering is wat ek moes maak as deel van die stryd teen Covid-19, dan doen ek dit met graagte. Die krisis en die probleem is groter as die individu. Ek dink ons moet ophou kla en kritiseer, ons ongerief verdra en vir die regering ons volle ondersteuning gee.”

Jan se vrou, Esmarie, stem daarmee saam.

“Jan se operasie was onverwags en aanvanklik ‘n skok. Dit was ‘n ontnugtering om nie op ‘n normale manier afskeid van jou geliefde te neem voor ‘n groot operasie nie. Dit was die eintlike uitdaging vir my - nie die operasie nie. My hart en logika was in ‘n stryd. Onmiddellik was ek gekonfronteer om die ware omvang van Covid-19 my eie te maak en daaroor te heers as ‘n oorwinnaar eerder as ‘n slagoffer. Ek moes net die groter prentjie sien, en ek sal dit weer kies.

“Ek is dankbaar vir ‘n regering wat regulasies daarstel om ons te beskerm, alhoewel dit somtyds vaag en ongerieflik is. Ek is opreg dankbaar vir die ondersteuning en gebede van familie, vriende, Jan se kollegas en kliënte. In hierdie tyd het ons weer besef wat werklik belangrik is in die lewe en ons sien uit na ‘n vreugdevolle toekoms,” sê sy.


9 views
  • Instagram
  • Twitter
  • Facebook
  • YouTube

©All Rights Reserved, 2020 by Regio TV

17A 14th Street, Kleinmond