Search

Rotweiler hang homself op

Kobie Coetzee



KLEINMOND – Tanjo is ‘n van-ganser-harte-hond. Hy doen alles met oorgawe – in so ‘n mate dat hy homself onlangs aan die los vel onder sy kieliebak aan die paaltjiesheining rondom hul erf opgehang het.

Dit het so gebeur: Floris Coetzee en Jasper, die borderkollie, het met hul oggendstappie by Tanjo se huis verbygestap, toe Tanjo en sy werfmaat, ‘n wolfhond, met oorgawe hul misnoeë te kenne wou gee dat party honde in die straat mag loop en hulle moet agter die heining sit en toekyk. Op en af het Tanjo teen die paaltjiesheining gespring en gespring en nooit opgemerk dat hy al hoër as die skerp bokante van die heining spring nie. Toe hy weer sien, hang hy aan sy kieliebak.

Die gegrom en geblaf, wat oorgegaan het in ‘n jammerlike getjank terwyl hy hulpeloos daar tussen hemel en aarde hang, het sy eienaar, Marelize Claassen uit haar slaap gewek. Intussen het Floris sy bes gedoen om Tanjo van buite die heining van die paaltjie af gelig te kry, maar Rotweiler se kind het mos ‘n gewig aan sy lyf – minstens 45 kg.

Toe Marelize saam kom help stoot aan Tanjo se agterstewe, kon Floris die vel darem oor die paaltjie gelig kry en Tanjo was vry....maar skaars was hy los, of hy begin weer teen die heining op en af spring. Floris het Jasper maar gou voor Tanjo se aangesig weggekry en later gaan verneem wat toe verder gebeur het.

“Ons is met Tanjo veearts toe en hy moes weerskante van sy been ‘n klomp steke kry. Die paaltjie het nie net deur die los vel gesteek nie, daar was ook ‘n vleiswond,” vertel Marelize. “Gelukkig het ons troeteldierversekering. Tanjo se been is besig om goed te herstel, maar ek hou die twee honde nou maar soggens in die huis as almal gaan stap, want ek sal regtig nie weer so iets wil beleef nie.”

7 views
  • Instagram
  • Twitter
  • Facebook
  • YouTube

©All Rights Reserved, 2020 by Regio TV

17A 14th Street, Kleinmond