Search

Nuwe herwinning loop goed, maar.......

KLEINMOND - Jan Momsen van die NG Kerk se Eko-Bediening laat weet dat die gemeenskap baie goed op die herinstelling van die herwinningsaksie reageer, maar dat hulle nog ‘n opvoedingstaak het om mense bewus te maak dat sakke gemengde rommel nie aanvaarbaar is nie – dit moet gesorteer wees en in die toepaslike dromme geplaas word.

Hy skryf: Met die begin van vlak 4 inperking op 1 Mei is herwinning ook oopgestel. Die Eko-bediening in samewerking met Walker Bay Recycling het toe weer met herwinning op die perseel van BD-Hub in Hoofweg begin. Die reaksie van die publiek was oorweldigend! Op die eerste dag was die 12 dromme sommer dadelik vol. Die dromme is toe na 18 vermeerder en dit word nou minstens twee maal per week leeggemaak.

Inwoners moet net asb daarop let dat geen gemengde sakke meer ingeneem kan word nie. Die rede is dat te duur is om dit te sorteer en omdat die sorteerders sedert Covid-19 nie meer sulke afval mag hanteer nie. Was en sorteer dus self jou huishoudelike afval in die volgende groepe: (i) karton wat in ʼn drom kan pas (rooi dromme), (ii) glasbottels en flesse (blou dromme), (iii) kantoorpapier en tydskrifte (groen dromme) en (iv) PET koeldrank- en waterbottels (geel dromme). Groter kartonbokse kan platgevou tussen die dromme geplaas word. Ongelukkig kan ons tans net bogenoemde afval vat.

Daar was gedurende die eerste week nog gemengde sakke en selfs tuinvullis afgelaai. Dit maak dit baie moeilik vir die herwinnaars. Wees asb geduldig dat ons nie nou al blikkies, metaal en ander plastiek kan herwin nie. Dit kom binnekort.


11 views
  • Instagram
  • Twitter
  • Facebook
  • YouTube

©All Rights Reserved, 2020 by Regio TV

17A 14th Street, Kleinmond